Huldeblyk aan die Westdene Busramp

Deur H H Thiart

Die eerste kwartaal is reeds verby,

nou gaan ons weer ‘n blaaskans kry.

Al die kinders is opgewek

dis op almal se lippe, in elke gesprek.

Volgende week sal die skole sluit,

van skoolwerk dan geen duit.

 

Woensdag, sewe-en-twintig Maart

afgemerk op menig kaart.

Op hierdie dag het iets gebeur

die dag wat die korrels van die kaf sou skeur.

Die dag met hartseer en smart

die hele wêreld staan verward.

 

Die dag begin met sy prag en praal

elkeen wil net die beste daaruit haal.

Almal uitgespaar tot op hierdie dag.

Niemand sou die dag iets slegs verwag.

Maar die lewe is so, elke oomblik tel.

Nou is dit hemel en netnou is dit hel.

 

Die kinders is haastig om skooltoe te gaan

besonder haastig om op te staan.

Want by die skool word gespeel, gehardloop en gelag,

wag net vir die skoolklok se laaste slag.

Gou-gou is die dag dan ook verby

Hulle haas hul na die plek vanwaar die bus sal ry.

 

Almal is in, vriende sit bymekaar

hulle skerts en lag, daar bestaan geen gevaar.

Elkeen sal afklim op ‘n bestemde plek.

Die bus sal so die hele gebied dek.

Stadig begin die bus beweeg.

Die skool – Vorentoe – is skielik leeg.

 

Die reis gaan voort soos elke dag

hoor die kinderstemme en gelag.

Die busbestuurder ook welbekend

Hy en die voorruit maak ‘n grootte prent.

So gaan dit heuwel op en heuwel af.

Niks kan gebeur nie, jy’s net laf.

 

Die bus ry voort, net soos beplan

die bestuurder se arms styf gespan

hy’s die spil waarom alles draai

koelkop bly bo alle lawaai.

Maar die noodlot is ‘n nare ding

wat selfs die sterkste op die knië dwing.

 

Reg voor hulle lê die Westdene dam

Dit lê daar, stil, koud en kalm.

Die roete gaan daarlangs verby

vandag sal hulle ook daarlangs moet ry.

Hulle nader die dam teen gewone spoed

tot noutoe het ons Vader hulle almal behoed.

 

Met ‘n draai sal hulle voor die dam wegswenk.

Alles gebeur in slegs ‘n oogwenk.

Die bestuurder verloor beheer.

Hy ruk nou die stuur heen en weer,

maar al sy pogings is verniet.

Die mens wik, maar God gebied.

 

Met skreeuende bande en gekraak

verander die Westdene dam in ‘n draak.

Die bus tref die water met ‘n slag,

wie sou so-iets ooit verwag?

Skreeuende kinderstemme word deur water gesmoor

Onder die water kan niemand iets hoor.

 

Skielik heers gaos op daardie plek

hierdie voorval sal oor baie dae strek.

Hulp uit baie oorde het opgedaag

skreeuende mense en motors wat jaag.

Binne en rondom daardie bus

is daar geen vyand nog minder rus.

 

Kinderlewens is op die spel

heldedade ongetel.

Daar is van hulle ook uitgespaar

ook hulle help, want vriende is in gevaar.

Daar is nog baie wat hul moet red

daarom die bittere verset.

 

Ouers en familie op die wal

Het hul hande saamgebal.

Al wat hulle kan doen is hoop,

geen geld ter wêreld kan hul kinders weer koop.

Steeds haal hul kinderliggaampies uit

Dit is hier waar selfs die sterkstes stuit.

 

Die bestuurder het dit oorleef.

Daar is nou ‘n stigma wat aan hom kleef.

Gebroke ouers kan dit nie verstaan

Miskien sal hul harseer later vergaan.

Hy’s ook die vader van ‘n kroos,

waarom sal hy nie ander kinders troos?

 

Alles oopgemaak soos ‘n boek

in die gaos moet ouers na hul kinders soek.

Huilende ouers in bittere smart,

party nog te verward.

Sommige strort egter geen traan,

Dis met ‘n droom, dit sal nou-nou weggaan.

 

Die Westdene dam het sy slag geslaan

die bus het soos ‘n skip vergaan.

Saam met hom ‘n tergende geheim,

Hoekom?

Was dit nie ‘n spieël vir die wat wou kyk

Hoe jyself in hierdie spieël sou lyk?

 

Twee-en-veertig wit kissies op ‘n ry

Het stadig in hul graf ingegly.

By ‘n baie, baie mooier hoërskool ingeskryf

Nou word hulle daar ingelyf.

Ons moet dus maar net berus

Hy is ook van ons bewus.

 

Liewe ouer en u wat nou nog ween

Wees verseker u is nie alleen

Elkeen wat ook kinders het,

is saam met u in hul gebed

dis hier waar ons die krag sal kry

om teen hierdie lewe te kan stry.

 

Please share this...Email this to someonePrint this pageTweet about this on TwitterShare on Facebook

2 Comments

  1. Pragtig en hartroerend . Dankie dat jy dit deel.

    • @ Louis Viljoen: Die huldeblyk is deur n vriend van my van jare gelede geskryf. Ek het dit gelees en omdat die ramp ons almal so aan die hart gegryp het, het ek besluit om dit te hou en kan dit nou na al die jare met almal deel. Ek is bly ek kon dit vir die agtergeblewenes van die kinders doen. Sterkte en groete.

Leave a Reply to lucas Viljoen Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *