‘n Kosbare Kosmosdag

‘n Kosbare Kosmosdag

Deur Brenda Van Dyk

Vorentoe. Hierdie mooi woord met soveel verskillende betekenisse rol soms moeiteloos en maklik, en met mooiste mooi herinneringe oor ons tonge, maar dit hak ook soms soos onwelkome knapsekêrels vas aan ons almal hier teenwoordig se gedagtes. Gedagtes  wat flits deur die 80’s. Dit was die jare van groot hare, groot skouerkussings en Jennifer Rush se musiek het rekords laat spat. Ons almal het hartstogtelik met ons tienerdrome en tienerharte haar lirieke beter geken as wat ons ooit Macbeth se “boilingpot” en Ross se karakterontwikkeling wou ontleed. Ons was tieners wat voluit geleef het vir ons volwasse lewe wat wag… Maar, dit was verál die noodlot van 27 Maart 1985 wat vir altyd onthou sal word as Vorentoe se Busramp… want ons het nie vergeet nie. Dis nou 30 jaar later en ons almal onthou steeds met die fynste detail en besonderhede daardie middag in Westdene, die dag voor die skool sou sluit vir die Paasvakansie. Ons het nie ons busrampvriende of familie vergeet nie. Ons onthou julle in elke groot ding wat met ons gebeur, en ook wanneer klein dingetjies gebeur. Ons praat van julle tussen vriende en ook met ons eie kinders. Julle leef in ons harte en gedagtes. Ons onthou julle in die mooi (kosmosse wat hierdie tyd van die jaar in Suid Afrika blom) maar ook in die bitterste moeilike dinge (soos die geluid van noodvoertuie se skril sirenes wat deur ons menswees & busrampherinneringe sny sonder enige vooraf waarskuwing. Ons skrik daarvoor want dit was deel van daardie dag se seerkry en onthou… En ja, die helikopters se wakende oog en klipharde tiktiktik, tiktiktik – geluid van die roterende lemme uit die lug… dis alles deel van die herinneringe wat vlak én diep in ons harte lê. Dit skaaf soms ons harte rou wanneer ons binne sekondes alles van vooraf onthou…

Closure is iets wat elkeen op sy eie tyd en eie manier kry. Sommige Vories vermy die onderwerp. Sommige Vories praat vrylik en sonder skroom oor die busramp. Irrelevant die manier waarop ons die seer van daardie dag by die dam onthou, is my wens vir elke persoon vandag dat ons met Vrede sal Vorentoe kyk. Dat ons met bewonderende liefde vir ons maats sal terugdink en verlang, en dat ons hierdie spesiale saamwees van besondere mense vir die volgende 30 jaar sal koester met slegs die allermooiste herinneringe van Vorie vriende en Vorie familie.

Vir my sal dit altyd ‘n kosbare kosmosdag wees…

Tot ons weer ontmoet. Kom ons kyk met liefde & vrede Vorentoe…

Liefdegroete en allermooiste wense.

Brenda.

1 Comment

  1. Ek was toe maar net so oor die drumpel van 15. Ek sal hierdie seker tot die dag wat ek my kop neerle nooit vergeet nie. Ek self was nie betrokke, ook geen van my familie of hulle vriende. Ekt daai jare in die platteland, Standerton, gewoon toe die nuus oor die radio’s kom. Ouma het gevul met emosies telefoon toe gehardloop en ek kon in haar stem hoor daars groot fout. Sy het uitgevra oor niggies en nefies en die gehoorstuk neergesit met trane wat oor haar wange rol. Ekt regtig gedink iemand is dood en verlig het sy die tiental van ons omvou en in engels gebid “God please put your hand on each and every person there today”. Was eers n dag of wat daarna toe die nuus ons skool deur begin draf het. Ek het nog altyd n groot liefde vir ‘n Kosmos gehad en maande daarna het iemand saam my gestem en gese dis die mooiste blom op aarde en dit word so genoem want dit kos mos niks. Eers in my groot mens lewe hier in die stad het ek die werklik betekenis van daardie woorde besef en soos ons ouma’s en oupa’s altyd gese het Liewe Jesus pluk altyd eerste die mooiste blomme….’n Kosmos spesiaal net vir jou. Dankie dat ek my Kosmos storie met elkeen hier kon deel en 30 jaar later sit ek met gevulde emosies en trane wat rol soos ek die stories oplees en alles onthou.
    Olivia

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.