Kranslegging 16 Junie 2013 – Westdene Dam

Kranslegging 16 Junie 2013 – Westdene Dam

As oorlewende van die Westdene Busramp, was dit vir my, op die stadium van my lewe, n groot eer om deur Hennie genader te word om die Stadsraad te assisteer om mense in kennis te stel en reelings te tref vir die dag. Dit was amper n “ietsie” wat mens kon teruggee, n geleentheid om ons vriende en vriendinne wat omgekom het, te vereer, op ‘n meer formele vlak. Ek weet in my hart wil en sal ons hul nooit vergeet nie, maar dit was n geleentheid om vir hulle te se “ons onthou en mis jul steeds”.

Dit was ‘n verrykende (maar hartseer) week en ‘n half om mense te probeer opspoor, en om die geleentheid te hê om te skakel met mense wat op verskillende vlakke deur die busramp geaffekteer was. In die afgelope drie jaar het geleenthede meer en meer vorendag gekom, waarin ek kon skakel met verskillende mense, na al die jare. En in dit, probeer mens seker maar steeds net soek na die berusting wat nog nie heeltemal ankers gelê het binne ons nie. Dit laat my ook besef hoe baie mense nog diep wonde dra na die afloop van die dag se gebeurtenisse, en hoe dit nie net ons gesinne wat kinders verloor het, en ons as oorlewendes wat die enigste seer gedra het saam ons oor die jare nie.

 

Aan die een kant het ek gewonder hoe ek mense sal kon kry om deel uit te maak van die dag, oor die sensitiwiteit wat steeds, 28 jaar later, gebonde is aan 27 Maart 1985. Die laaste ding wat mens wil doen is om ou wonde oop te krap, maar die terugvoer wat ek ontvang het,  het my aangepor om harder te soek, ek wens net dat ek meer tyd gehad het om meer mense te betrek.

Alhoewel elke detail van die ongeluk soos gister by my bly, was die detail van die tyd daarna n bietjie van n “blur”. Ek kon onthou dat Piet Crous sy wêreld bokstitel verdedig het na die busramp, maar kon nie onthou wanneer presies dit was nie. Toe ek ondersoek instel het dit soveel meer sin gemaak oor hoekom dit steeds in my gedagtes vasgehak het. Dit was 30 Maart 1985, die Saterdag aand na die ongeluk, ek het die boksgeveg saam my ouers gekyk, maar Piet se boodskap het vir altyd by my gebly. Sy oorwinning was opgedra, as oud Vorie, aan die 42 kinders wat hul lewens verloor het in die Westdene Busramp. Ek wil graag vir Piet Crous bedank dat hy die kranslegging bygewoon het.

Ek het ook beoog om nie net die gesinslede van ons oorlede maats en die oorlewendes in te sluit nie, maar wou ook graag die mense wat daardie dag helde was, betrek. Ongelukkig kon ek nie veel van ons eie helde opspoor nie, en die terugvoer wat ek ontvang het was dat hul hoegenaamd nie oor die verskriklike dag praat nie. Dit het my laat dink aan net hoe moeilik dit vir hulle was. Ek hoop hul weet dat daar mense is wat dieselfde pyn deel en wat daar is vir hulle om mee te gesels, al is dit hoe moeilik.

 

Ek het met n paar onderwysers gesels, in spesifiek, Mev Betta Bischoff. Sy het haar lewe toegewy aan onderwys, en soveel van ons  voete het oor haar klasdeur se drempel gestap. Mev. Bischoff het n groot rol in die busramp vertolk, ons sou haar so graag daar wou hê, maar ongelukkig het sy verskoning gevra oor sy van ander afhanklik was om by plekke uit te kom, en in Pretoria woon. Sy het wel haar goeie wense aan almal gestuur. Dankie Mev. Bischoff vir u toewyding aan die opvoeding van menigte van ons oud Vories, en die bydrae wat u gelewer het die dag van die busramp om vir ander dit so klein bietjie makliker te maak.

Dan is daar die mense wat mens net nooit aan dink nie, oor dit hul werk is, of so dink ons as mensdom maar net. Die personeel van die JG Strijdom Hospitaal, Johannesburg Brandweer, Randburg Brandweer en dies meer. n Paar boodskappe wat gelaat is op die FB groep maak mens bewus van die bydrae wat hul gelewer het, en dat dit nie net nog n dag by die werk was vir die groep mense nie, maar ook n dag was wat hul nooit sou vergeet nie. Dewald van Dyk en Malcolm Midgeley was deel van die mense wat ek kon opspoor en het die kranslegging bygewoon, baie dankie daarvoor.

En dan, aan die oorlewendes wat ek glo vir jare (en moontlik steeds) met hul eie demone geworstel het, vriende en vriendinne wat hul pêlle verloor het, wat die dag na die ongeluk weer terug moes gaan skool toe en 77 mense gemis het in hul klasse, nie seker of hul oorleef het of nie, en laaste maar nooit die minste nie, die ouers en gesinne van ons oorlede maats, dankie vir die van julle wat kon bywoon. Ons is almal gebonde aan mekaar vir n leeftyd.

Ons is as individue, gesinne, ‘n gemeenskap, ‘n land aangeraak deur 27 Maart 1985. Ons liefste maats, ons sal jul nooit vergeet nie.

Lees gerus ook die gedig wat Eurika (de Koker) du Plessis voorgelees het by die kranslegging.

deur Elize Venter

Please share this...Email this to someone
email
Print this page
Print
Tweet about this on Twitter
Twitter
Share on Facebook
Facebook

1 Comment

  1. U Joubert (Allan)

    Ja dis so wonderlik om te besef daar is so baie mense wat nog steeds dink aan daai dag. Ek self was nie in die ramp maar ek het vriendinne gehad daarin soos Francina Fritz en Hester Reynders wat nie meer by ons is nie. Dankie vir die blad.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *