Oorlewende nog spyt dat hy niks kon doen

Beeld

Wie weet wat mnr. Andrew Smith (35) se lot sou gewees het as hy op 27 Maart 1985 nie ná skool ‘n onbeplande rugby-oefening moes bywoon nie? “Ons was besig met die oefening toe ons hoor van die ongeluk. Dié van ons wat in die bus sou gewees het, het almal af dam toe gehardloop. Toe ons daar kom, was die gebied al afgesper,” vertel hy. “Ons het van ‘n afstand staan en kyk hoe die duikers die liggame uitbring en die polisie dit in die pad op komberse neerlê.” Ná al die jare is hy steeds spyt dat hy nie dáár was om sy skoolmaats te help nie. “Die groot ding vir my was nie hoe gelukkig ek was om te leef nie, maar dat ek hulpeloos moes staan en niks kon doen nie.” Hy was toe in gr. 9.

Tot die dag van die ongeluk was die Westdene-dam die plek waar Smith en sy vriende vis gevang en gespeel het. “My ouma-hulle het twee strate van die dam gewoon. “Kleintyd het ons soms sommer langs die dam geslaap.” Sy belewenis van die dam sou op 27 Maart 1985 vir altyd verander. “Ons het toe al in Discovery (aan die Wes-Rand) gewoon en ek het elke middag by ‘n maat se huis in Triomf gewag totdat my ma uit die werk kom. “My ma het nie geweet van die rugby-oefening nie en was vas oortuig ek was in die rampbus toe sy my nie by die maat se huis kon opspoor nie.” Smith en sy ou skoolmaats het ná die ramp jare lank steeds hegte vriende gebly. “Ek dink daai dag het gemaak dat ons so na aan mekaar gebly het.

“Verlede week is een van my beste vriende begrawe. Net 35 jaar oud; dood aan ‘n hartaanval. Met die begrafnis was ons hele klomp van Vories weer saam. Van die ouers wat daar was, het weer stil om die grafte van die busslagoffers gestaan. “Dit het amper gevoel soos ‘n reunie, so kort voor die herdenking van die ramp.”

1 Comment

  1. Louis Esterhuizen

    Who were the recipients of the Wolraad Woltemade medals please

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.